Woord vir woord

Woord vir woord #7: Vloermoer

Ek kom by die huis nadat ek vanaf my werk in die suidelike voorstede eers by ons plaaslike OK Grocer gestop het vir kruideniersware. Baardman tref my by die voordeur aan waar ek ons slot vloek.


Maggie (sukkel om die hekslot toe te druk met een hand vol winkelsakke): “Grommompelgromvloekwoordgrom.”

Baardman (versigtig): “Sukkel jy?”

Maggie (vlieg om): “DIT IS DIE JAAR 2035 EN MAGGIE MARX HET PAS DIE PRYS GEWEN VIR DIE ENIGSTE PERSOON WAT NOG FLIKKERLIGTE GEBRUIK!”

Baardman: “Oukei…”

Maggie (storm deur kombuis toe): “Ek moes letterlik twee keer dood stop of ek het in ’n kar wat voor my indruk, vasgery. Twee keer! En. EN. ’n Teller by die OK het aan my maag gevat. My MAAG gevat. En sulke koergeluidjies gemaak! Toe vra sy my hoe ver ek is. Toe hou ek my hand so plat bo my kop en sê: ‘Ek is SO VER.'”

Baardman (probeer om nie te lag nie): “Oukei…”

Maggie (begin verwoed sampioene opkap en beduie met die mes): “En toe’s daar so bakkie wat so vrot parkeer is dat ek my boep moes squash om in die kar in te klim! En toe ek uittrek, toe sê ek vir die karwag om vir die persoon te sê ’n vet, swanger tannie sê hy of sy park soos ’n poephol!”

Baardman (met oë wat nou begin traan): “En wat sê hy toe?”

Maggie (met ‘n mond vol rou sampioene): “Oukei madam.”

Baardman (trek Maggie nader hou haar styf vas terwyl hy ruk van die lag): “Jy’s mooi…”

 

 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.