Woord vir woord

Woord vir woord #9: Noodgeval

Deel 1

’n Paar weke gelede op ’n rustige Vrydagaand kry ek klokslag om middernag vreemde, herhalende skietpyne rondom my buik terwyl ek in die bed lê. Nie seker wat om te doen nie, roep ek vir Baardman wat nog voor besig is.


Baardman (lyk soos ‘n bekommerd-bedonnerde Ouboet in Orkney Snork Nie wanneer hy nie weet wat aangaan nie): “Moet ons hospitaal toe gaan?”

Maggie (sê niks en google Braxton Hicks-kontraksies): “Ek weet nie.”

Baardman (lyk steeds asof hy in traksie staan) : “Ek gaan piepie?”

Maggie (staan gebuk oor die bed in baie pienk pajamas): “Oukei.”

Baardman (skuifel badkamer toe): “Oukei…”

Maggie: “Ek bedoel, oukei, ek dink ons moet hospitaal toe.”

Baardman spring soos Wayde uit die blokke uit en sit AL die ligte in die huis af.

Maggie: 


Deel 2

Ek en die Baardman stap by ongevalle in. Ek het my gunstelingmussie op – ’n gehekelde bruin een met groot uil-oë en stringe wol vir wimpers wat uit die twee ooglede peul. Ek word ge-triage, piepie in ‘n Pathcare-botteltjie en ’n rukkie later lê ek op ’n bed in die ondersoeksaal. Die pyne is teen hierdie tyd minder en ek en Baardman effens meer gerus. ‘n Suurerige suster kom om.


Suster (loer kwaai vir my): “Allergies vir iets?”

Maggie: “Sulfonamied, byegif en soms is ek allergies vir my man.”

Baardman snorklag. Die suster reageer glad nie en loop nadat sy my bloeddruk geneem het.

Maggie (saggies): “Ontmoet vir Juffrou Rottenmeier…”

Baardman (wys na my mussie): “Dalk dink hulle jy’s ’n mal bag lady…”

Maggie: “Soms is almal een…”

’n Redelike ruk gaan in stilte verby terwyl ons vir die dokter wag. Baardman loer nou en dan steeds bekommerd na my. Ek voel egter dat Sias wel nie sy verskyning gaan maak nie en dat dit iets anders, minder ernstig is wat skort.

Maggie (kyk nadenkend om haar rond): Dis so ongelooflik wit hier binne. Wit ligte, wit mure, wit lakens en gordyne…

Baardman: “Mmm?”

Maggie: “Dink jy hulle het vir ou Pik gekry om die binneversiering te doen?”

Baardman versmoor sy lag in een van die leliewit kussings en die nors suster proes agter die gordyn…

***

Naskrif: Dit was toe blaasinfeksie. Sias is honderd bedonnerd.

Leave a Reply