Algemeen

Wat niemand my van ouerskap gesê het nie

Sedert Sias hom in November by die Bellville-boekwurms aangesluit het, het ek en die Baardman meer avonture gehad as in die sewe jaar voordat ons lewens onherroeplik verander het. Daar was eerstes van elke soort en die tyd stoomroller by ons verby terwyl ons wêreld stilstaan elke keer as ons na hom kyk.

Ons is nou al tien weke lank ’n gesin van vyf (ja, ons tel vir Bruss en Springsteen by) en al is ons nuwe lewe slegs ’n baie belowende embrio, is daar reeds goed*** wat my verbaas. My naarstigtelike oplees en beplanning voor Sias se koms ten spyt…

Doek1. Ek was voorbereid op die mekonium-doeke waarvan alle ouers jou in sulke heilige stemtone vertel, maar ek’t nooit gedink om uit te vind hoe Sias se borsmelk-doekddeposito’s daarna sou lyk nie. Dis geel. Borriegeel. Chicken curry-geel. Vincent van Gogh-geel. En as die doek mooi vol is, lyk dit soos ’n loperige origami bunny chow. (Jy kan sekerlik aflei dat nie ek of die Baardman deesdae veel lus vir Indiese kos het nie…)

2. Mediclinic Panorama se kraamsaalsusters is donnerswil fantasties, maar met die kraamsaaltoer vroeër verlede jaar, het niemand ons gewaarsku dat hulle jou met elke inloer gaan vra hoeveel nat en vuil doeke jy geruil het en hoeveel keer en hoe lank Sias gedrink het nie. Ek is, tot my spyt, nie ’n Quantico-opgeleide agent wat 03:00 in die oggend stats kan rondgooi soos Donald Trump se span met hul alternatiewe feite doen nie. (Jy rol nou nes ek jou oë, né?) Daar is gelukkig ’n hele paar apps daarvoor. Doen jouself ’n guns en kry een.

3. Pasgebore babatjies slaap deur min of meer alles. Deur hul eie Velociraptor-gille en doekdreunings tot hul pa’s se gesnorkery en die hospitaal se raserige kostrollie. Na so ses weke is dit egter ’n ander storie en dan vervloek jy die dag toe jy verlief geraak het op die pienk huis met die mooi houtvloere, jy vervloek jou man se moerse (koe)voete wat hom skielik soos Jan se boontjierank-reus laat klink, die feit dat honde blaf en ook jou shitty knieë wat knak elke keer as jy jou baba aan die slaap probeer wieg.

4. Hospitaalkos is glad nie sleg nie, maar jou man gaan by die café onder wegneemetes kry wat jou sommer net moerig maak.

5. Op die derde dag gaan jy huil. Jy gaan ween. Jy gaan die trane laat rol soos die riot-polisie en hul traangas. Jy gaan nie weet waarom nie. Jou man gaan ook nie weet hoekom nie. Sê maar net vir almal jy’t pas ’n mossie met net een been gesien. Almal verstaan altyd wanneer mens daaroor huil.

6. Toe ons Sias huis toe bring, het ons nie geweet wat om met hom te maak nie. Om een of ander duistere rede het ek besluit die beste ding is om hom in sy baba-slaapsak in sy kot te sit. Hy het tien minute daar gelê en toe soos ’n banshee aan die gil gegaan omdat hy papnat gesweet was. Ek het so groot geskrik, die slaapsak lê nou nog onder in sy kas. En sal tien teen een daar bly.

7. Soos jy seker uit die doekstorie kan aflei, het ek besluit om te borsvoed en het ek die boerpot losgeslaan, want ek het dit redelik maklik onder die shitty knieg gekry. Wat ek nie besef het nie, is hoe wolf-flippen-honger jy word. Die Baardman is ernstig wanneer hy vir mense sê dis soos om saam ’n tienerseun te bly. Ek eet alles. En baie daarvan. Behalwe natuurlik bunny chows. Ek het een middag uit desperaatheid met my een beskikbare hand ’n tamatie uit ons yskas gegryp en net so in my mond gedruk. Die. Hele. Tamatie. Die Baardman het darem daarna die yskas vol boob-kos gemaak wat ek maklik met een hand in my mond kon kry.

8. Ek het uiteindelik besef ek is, helaas, nie so larnie soos Karlien van Jaarsveld nie en moes my geite oor gevriesde etes laat staan. Elke nuwe ouer moet eintlik so tien sulkes kry wanneer hulle hul baba huis toe vat. Dis tyd saam met jou kind in die vorm van ’n frozen frikadel.

9. As jou man jou betrap waar jy besig is om melk te pomp met ’n hele tamatie in jou mond en hare wat drie dae gelede laas gekam is en jou steeds soen en vashou voordat julle saans vir die eerste keer gaan slaap, het jy die motherlode raak getrou.

10. Hierdie liefde wat ons nou voel, oortref elkeen van my drome. Ja, selfs die een van my in ’n Dave Grohl en Chris Pratt-toebroodjie…

*** Elkeen van ons se ervaring as ouers is anders. Ek en die Baardman voer Sias met borsmelk en sit vir hom lapdoeke aan. Jy gee dalk formule en gebruik Pampers. Ons is egter almal donners lief vir ons telge – op die ou einde van die dag is dit regtig al wat belangrik is.

Wat het jy in jou eerste tien weke as ouer geleer?

Save

Save

Save

Save

Save

1 Comment

  1. Megan

    27/06/2017 at 4:57 pm

    Ek lief elke liewe woord wat jy hier neergepen het Maggie. Dit was nou ‘n lekkerlees.

Leave a Reply