Algemeen

‘n Brief

Donderdag is ek 34 weke swanger. As alles goed gaan, is Sias oor 6 weke hier. En ek is absoluut angsbevange. Op hierdie stadium drink ek eerder saam Voldemort botterbier en vryf Negan se bofbalkolf vir hom blink voordat ek dink aan wat vir my en die Baardman voorlê. Ek voel meer uitgedaag as Donald Trump deur die oorspronklike Oros-mannetjie. Ek’s so benoud soos ’n student wat aan die einde van die maand by ’n ATM R20 probeer trek en hoop daar kom ’n noot en nie net ’n nota by die masjien uit nie.

Daar’s baie uitdagings wat my en die Baardman in die komende maande in die gesig gaan staar. Ons gaan moet hoes om mediese rekeninge te betaal en my onbetaalde kraamverlof te maak werk. Ons gaan bitter min slaap en tien teen een meer as een keer wonder waarom ons as studente so bang was voor daai ATM. Ons gaan mekaar in nuwe rolle moet leer ken terwyl ons skielik verantwoordelik gaan wees vir ’n hele ekstra mens. Maar regdeur al hierdie uitdagings, gaan dit ’n ons wees en nie ’n ek nie.

Ek en Baardman het dosyne Partenons (mag die meervoudmeesters my vergewe vir daai een) wat ons ondersteun. Regdeur ons albei se daaglikse lewe is daar pilare en pilare vriende, kollegas, familielede en selfs vreemdelinge op wie se knoppies ons enige tyd kan druk. Daar is mense wat ure op vliegtuie en busse sal spandeer om ons te help, daar is mense wat sonder om te dink hul kosbare tyd aan ons sal gee en op enige ander manier wat ons hulle mag nodig hê, sal inspring. Daar is kollegas wat sal werk oorneem en vriende wat vir ons kos sal aandra en ons sal vashou as ons voel ons gaan breek.

En ten spyte van die feit dat ek hierdie geweldige groep mense agter my het, voel ek steeds absoluut verward en weerloos, en ek sukkel om te dink hoe ’n mens meer as dit kan voel.

Maar daar’s vandag ’n ander vrou wat se hart meer as dit voel en honderde kere swaarder weeg. Sy is bang. Só bang dat sy vertroosting vind in die gewig op haar skouers. Sy dra haarself seer aan ’n magdom onsekerhede en sy moet haarself en haar kind elke dag teen houe en houe oordeel en stigma probeer beskerm. Sy sleep al die rolle wat sy moet speel en al die gesigte wat sy moet opsit in swaar sakke sout agter haar aan. En sy doen dit stoksielalleen. Al hierdie goed wat ek voel, voel sy tien keer meer.

In 2014 het Statistiek Suid-Afrika ’n verslag uitgereik wat bevestig dat daar vir min of meer 660 000 van daai jaar se 1,1 miljoen geboortes geen inligting oor die baba se pa gedokumenteer is nie. Jy kan jou eie afleidings maak oor wat dit vir die getal enkelma’s beteken – selfs al skrap jy ’n paar duisend van daai getal om “human error” in ag te neem.

Baie van hierdie enkelma’s het stewige ondersteuningstelsels en vriende en familie wat daar was/is vir hulle. Maar ek is absoluut seker baie van hulle het ook nie. Daar is nuwe ma’s wat skaars die verpligte 6 weke onbetaalde kraamverlof kan bekostig. Daar is ma’s wat net op die staat se karige UIF-uitbetalings kan staatmaak. Daar is ma’s wat hulle week-oue babas by amper-vreemdelinge moet los om geld te gaan verdien. Daar is ma’s wat moet uitvind hoe pateties die medies wat sy het eintlik is. Daar is ma’s met werkgewers wat die wet in verband met kraamverlof en borsvoeding by die werk bloot ignoreer en kollegas wat nie begrip het vir hulle situasie nie. Daar is ma’s sonder ’n dak oor hul kop of kos om te eet. Daar is ma’s wat letterlik met niks uit lewensgevaarlike verhoudings en omstandighede gevlug het en nou na ’n ander mens moet omsien. Alleen. En my hart breek vir haar en hulle.

So liewe enkelma – as ek kon, het ek ons Partenons met jou gedeel. As ek kon, sou ek vir daai oordeelkundige bliksem in die cubicle oorkant jou ’n happie van Negan se blink bofbalkolf gegee het. As ek kon, sou ek my kos en huis met jou deel. As ek kon, sou ek jou saam met my na my uitstekende ginekoloog toe vat en jou langs my laat sit in Anelle (Panorama Borsvoedingskliniek) se voorgeboorteklasse waar ek so baie leer en waar so baie van my vrese net verdwyn. As ek kon, sou ek elke dag vir ’n paar ure na joune kom kyk, sodat jy kan skoon kom en dalk ’n bietjie slaap. As ek kon, sou ek my Baardman kloon en vir jou ook een gee. As ek kon, sou ek self langs jou staan en jou toelaat om my hand te vergruis wanneer die tyd kom.

Maar ek kan nie. En ek is jammer.

Mag iemand êrens hierdie lees, en dit in sy of haar hart vind om vir jou ’n stukkie van hulself te gee. Ek bid dat jy genoeg stukke sal kry om amper weer heel te voel. Sodat jy ’n paar van daai soutsakke kan laat gaan en jou skouers so paar ton ligter voel.

En al beteken dit bitter min, wens ek ek kon.

Al my liefde

Maggie


As jy nie ’n enkelma in jou lewe het wat jy kan ondersteun nie, maar steeds wil help, skenk asseblief enige bedrag of ’n deel van jou tyd aan die Perinatal Mental Health Project (PMHP).

As jy ’n enkelma in nood is, raadpleeg asseblief hierdie gids om hulp in jou area te kry.

Foto: Baardman se brother from another mother, Jeremi Janse van Rensburg.

Leave a Reply