Algemeen

Bou Beter

Liefste Sias

Gister het daar ’n moeder van ’n storm deur die Kaap gebliksem. Soos ’n angstige student in die mosh pit by ’n Pantera gig. Dit was soos die crescendo van ’n paar baie kak weke en het saam met dit nog slegte nuus aangewaai. PG du Plessis, my gunstelingskrywer, is oorlede. Johann Botha, ’n legend in die Afrikaanse mediabedryf, is tydens ’n rooftog in Johannesburg vermoor. ’n Brand in Knysna verskroei alles behalwe die ellende wat dit agterlaat. Suid-Afrika is weer in ’n resessie. En stil-stil breek die nuus, geweld en natuur die mense in ons buurte en stede en land se hoop af.

En wyl dit alles om jou woed, sit jy daar op die mat in ons sitkamer en lag vir jou Boetie Bruss wat lê en snork op die bank. Salig en sonder kommer. Vir ’n ruk skyn daar ’n straal son oor jou gesiggie.

Terwyl ek so na jou kyk waar jy jouself doodlag vir ’n slapende hond, lees ek op Facebook hoe mense bang raak. Hoe hulle wil wegtrek.

Jy gaan dit sekerlik nog baie hoor en sien. En ek hoop jy verstaan dat dit menslik is en dat dit reg is. Dat niemand se paaie vir hulle uitgetrap is nie. Dat mense jou soms gaan agterlaat en dat jy ook soms mense in jou truspieël gaan sien kleiner word. Maar ek hoop ook jy weet dat jy kan bly as jy wil.

Dit gaan met tye regtig egtig sleg. Jou pa se foon is so week of wat gelede vir die tweede keer hierdie jaar gesteel. Jy, jou klein stront, is pas uit die hospitaal waar jy my en jou pa op ons knieë gehad het. Ek is al deur ’n retrenchment en saam moes ek en jou pa al met bitter min klaarkom. En dan is daar natuurlik daagliks nuus van hoe Suid-Afrika en sy mense swaarkry.

Ek en jou pa het al baie gepraat wanneer dae soos vandag verbywaai. Moet ons gaan? Wat sal ons laat besluit om te gaan? Die gesprek duur nooit langer as ’n minuut of twee nie. Ons albei glo dat ons hoort.

Ek hoop jy verstaan eendag hoekom ons so voel. Dis ’n vreemde ding. Dié gevoel van samesyn. Ek en jou pa kan vir jou klein treine vol stories vertel van hoe vreemdelinge mekaar tussen stasies en perronne help. Ons het self al baie afgetrek om iemand met karprobleme te help. ’n Vreemde vrou het al vir my MiCiTi-buskaartjie betaal toe my kaart soek geraak het en ek laat was vir werk. ’n Lewis-verkoopsman het sy winkel se deure gesluit en in die middestad saam met my tot by die regte gebou en vloer gestap toe ek op pad na ’n onderhoud in die Golden Acre in my moer in verdwaal het. Ek, jou pa, Oom Gerhard en Tannie Febé het al ’n dronk meisie van haarself en ’n klomp drolle in ’n wit Golf gered. ’n Buurvrou het ons op moeilike dae vol pannekoek en koffie gestop en iemand op in die straat het my verlore foon opgetel en aan my terugbesorg. ’n Vreemdeling het dieselfde een keer met my huissleutels gedoen. (Jy rol tien teen een nou jou oë, want jy weet ek verloor gereeld al my shit.)

In 2013 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ’n veldtog met die naam “Building back better” geloods. Die basis van die hele ding is dat wanneer ’n ramp ’n land of area tref, daar die geleentheid is om uit die niks wat agtergelaat word, beter geestesgesondheidstelsels te vestig. Eerder as om aan te karring met oneffektiewe gewoontes wat voor die ramp niemand gehelp het nie, sê die WGO daar’s kans om iets beter te bou.

Dis ’n konsep wat al maande by my vassteek. Building back better. Dit klink so mooi. Dit klink soos moontlikheid en vordering en aksie. En dis hoekom ek dink ek en jou pa elke keer besluit om te bly. Ons is gewire om moontlikheid te sien. Ons kom albei uit nuuskantore uit – daar waar goeie nuus doodgaan. Jy moet na die mense om jou kyk om die goeie nuus te sien. Die vreemde meisie wat op haar pa se skouers sit en vir elke donnerse kar waai wat verby ry. Die Uber-bestuurder wat jou in die kar inhelp, want hy’t gesien jou eindbestemming is ’n dokter se spreekkamer en jy lyk oes. Die vreemdeling wat vir jou sy foon leen sodat jy jou bekommerde vrou kan bel. Die hele land wat saamstaan om te help elke keer as ’n ramp ons tref. Die mooi musiek. Die mooi kos. Die mooi mense. Die mooi mooi.

Ek hoop ek en jou pa kan aanhou besluit om te bly. Ek hoop ons kan jou wys dat jy in Suid-Afrika nie hard na liefde hoef te soek nie. Ek hoop jy sien ons nooit huiwer om te help nie. Ek hoop jy sien, nes ons, die moontlikhede hier. Ek hoop ook jy sien nooit hoe ons trane of woede terughou nie. Ek hoop jy sien ons nooit ons woorde tel wanneer ons stemme eintlik hard en duidelik en aanhoudend moet wees nie. Ek hoop ons kan jou wys wat goedheid en moed is. Ek hoop ons kan jou leer om te help. Ek hoop ons kan jou leer om ten spyte van jou weemoed iets beter te prober bou. Want daar is niks wat sterker voel as die hoop wat jy vir jouself beter bou nie.

Mense mag jou dalk sê dat jou ouers naïef is. Dat ons lefties is. Dat ons die Kool-Aid gedrink het. Jy mag dalk eendag self so dink. Maar vir nou, ten spyte van die storms om ons, sal ons bly en bou. Ons is op ‘n sugar rush en bons van die antwoord-kranse af. Want die blou Afrika-hemel weet, ons is donners gelukkig hier.

Liefde

Mamma

 

5 Comments

  1. Adri

    08/06/2017 at 2:42 pm

    Maggie,
    Ek het lanklaas ‘n hele stuk in Afrikaans gelees – hierdie is so goed gese. Skryf asseblief meer!
    Adri

    1. Maggie

      08/06/2017 at 3:00 pm

      Dankie, Adri! Jy klink nou nes Gerrie! :p

  2. Charmaine Joubert

    09/06/2017 at 5:24 am

    Beter bou en geluk loop hand aan hand. Ons bly en ons bou en ons geluk saam!! Welgedaan Maggie.

  3. Ester Griesel

    09/06/2017 at 7:48 am

    Ai so lekker om te lees Maggie. Jy mag maar skryf. Ons ht meer mense soos jy en Gerrie nodig. Gaan so voort. Mooi loop en geniet daai oulike klein mannetjie!

  4. Tanya

    12/07/2017 at 2:06 pm

    Dis great gesê. Pressies hoe baie van ons voel…. en die druk van ander om land uit te gaan te igonoreer en self te besluit ons hoort hier …

Leave a Reply